Graad (meetkunde)

Een graad (rooi) en 90 grade (blou)

'n Graad is 'n eenheid vir die grootte van 'n hoek op 'n plat vlak. Een graad is gelyk aan 1/360 van 'n volle omwenteling, of π/180 radiale, en word gewoonlik deur die simbool ° aangedui. So vorm 'n hoek van 90° dus 'n reghoek. Die graad is nie 'n SI-eenheid nie (die SI-eenheid vir hoeke is die radiaal), maar word tog algemeen gebruik.

Daar bestaan onsekerheid oor die oorsprong van die graad. Een moontlikheid vir die indeling van die sirkel in 360 grade, is dat dit min of meer ooreenstem met die aantal dae in 'n jaar. Sommige antieke jaarindelings, soos die Persiese kalender, het inderdaad 360 dae vir die jaar gebruik. 'n Ander moontlikheid is dat dit uit die gebruik van seksagesimale getallestelsels ('n stelsel met basis 60) gevolg het. Die Babiloniërs het so 'n getallestelsel gehad en was van die eerste groepe wat driehoeksmeting ontwikkel het. Die hedendaagse gebruik van grade is daaraan te danke dat die Antieke Grieke, onder die invloed van die Babiloniërs en ander groepe, dié hoekindeling gebruik het. Die getal 360 is ook geredelik deelbaar: daar is 24 getalle wat in hom indeel, onder meer die aantal ure per dag (24), die aantal maande per jaar (12) en die aantal dae per maand (30). So kan ons byvoorbeeld die aarde in 24 tydsones van 15° elk opdeel.

Die graad word onderverdeel in minute (60 minute in 'n graad) en sekondes (60 sekondes in 'n minuut). Minute word gewoonlik met die simbool ' aangedui, en sekondes met ". So stel 40° 11′ 15″ 'n hoek van 40 grade, 11 minute en 15 sekondes voor. Dit kan ook in 'n desimale vorm uitgedruk word: byvoorbeeld, 40.1875° = 40° 11′ 15″.


© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search